
Pruimpie Botha – 2016
- Pruimpie Botha – Jukskei se eie DIAMANT van Kimberley! Johannes Frederick de Villiers (Johan vir sy familie en Pruimpie vir sy vriende) het op 9 Augustus hierdie jaar sy tagtigste verjaarsdag gevier. Pruimpie is gebore in Kimberley en het aan die Laerskool Vaalrivier en Hoërskool Barkly Wes sy formele skoolonderrig voltooi. Hy het twee broers (Toit is reeds oorlede) en een suster. Na skool bekwaam hy hom as senior tegnikus en werk sy hele werkende lewe vir die Suid-Afrikaanse Spoorwee en later Transnet. Soos ‘n diamant het Pruimpie verskeie fasette wat almal blink: Die eerste faset is sy betrokkenheid by verskillende sportsoorte en in besonder as rugbyspeler en liefhebber. In die sestigjare speel Pruimpie vir Griekwaland-Wes op provinsiale vlak rugby (in ‘n soortgelyke kompetisie as die Curriebeker). Hy speel skrumskakel en sy losskakel was die legendariese Piet Visagie (Springbok speler wat 44 toetse vir SA gespeel het). Pruimpie het 77 wedstryde vir die Griekwas gespeel en benewens sy skakelmaat Piet Visagie was die senter / vleuel Francois du Toit “Mannetjies” Roux – held van 27 toetse en waaraan Laurika Rauch haar bekende “Groete aan Mannetjies Roux” opgedra het. Interessant dat beide Pruimpie en Mannetjies hul ma se nooiensvanne as deel van hul name het. Saam met Pruimpie het ook die bekende Springbok (43 toetse) en later afrigter, Ian Kirkpatrick, as senter vir Griekwas gespeel. Onder Ian se leiding het Griekwas in 1970 die Curriebeker voor Noord-Transvaal met 11-9 gewen. Toe Pruimpie sy militere diensplig in Pretoria gedoen het, het hy ook vir Noord Transvaal, ja die “Blou Bulle” rugby gespeel op die Loftus wat ons vandag ken. Pruimpie het saam met Frik du Preez, Gert Potgieter en Louis Schmidt (die oorspronklike Bloubul en vader van Uli Schmidt) gespeel. In daardie dae het almal voor die radio (of draadloos) gesit en rugby luister en het Gerhard Viviers (Spiekeries) die wedstryd uitgesaai. Tydens een spesifieke wedstryd was daar te veel Bothas dat Gerhard dadelik die klein woelige skrumskakel van die Noorde as “Pruimpie” gedoop het, wat so hard om die skrum gewerk het. As sportliefhebber het Pruimpie ook later jare in die Spoorweë as Sportorganiseerder gewerk en dwaroor die land gereis om sport by die verskillende kampongs en werkers te promoveer. Hy is steeds baie life vir krieket en ek onthou hoe ons as kinders saam met hom en my pa na Ellispark gegaan het in die winter en dan op die Wanderers gesit het in die somer. Sy grootste krieketheld is steeds Greame Pollock en hy was in die skare om die formidabele kolwer se soveelste honderdtal toe te juig. Pruimpie ken sport – alle sport – en is steeds vandag geinteresseerd in atletiek, pluimbal, en hy was jare gelede ‘n gekwalifiseerde skeidsregter in: jukskei, boks, atletiek, sokker, rugby en pluimbal. Die laate 15 jaar wat Pruimpie gewerk het het hy as bemarker die Phelopha (gesondheidstrein) in die land bemark. Hy het die hele land deurkruis en weke voor die trein die dorpe besoek om seker te maak alles is gereed sodat die gemeenskappe bedien kon word deur al die professionale dienste beksikbaar op die trein. Priuimpie se deernis en omgee vir die land se mense was sigbaar in sy omgang met alle mense. Die derde faset van Pruimpie Botha is beslis sy liefde vir sy kultuuraktiwiteite. Pruimpie was ‘n kranige Voortrekker maar dit is by Volkspele waar hy vanaf 1952 betrokke is. Hy speel veral in Kimberley en was in 1969 lid van ‘n Suid Afrikaanse toergroep wat deur Europa getoer het – ‘n ware ambassadeur van Suid-Afrika. Hy het vandag nog vriende wat hy in hierdie kringe gemaak het en wat lewenslank met Pruimpie Botha geassosieer wil wees. Hy het tydens die 100 jarige Volkspele vieringe steeds saamtrekke bygewoon en Volkspele gespeel. Pruimpie se anker is sy geloof in Christus. Hierdie faset skyn sterk deur in al die ander fasette wat hy altyd met groot oortuiging en sekerheid uitleef. Pruimpie is aktief by sy kerk maar sy gawes leef hy ook daagliks uit in die omgang met mense, minderes en meerderes wat hy nog altyd met die grootste respek behandel. Pruimpie versinnebeeld die rol van dienaar. Hy is lief om mense te bedien (letterlik het hy al dikwels in restaurant se kombuise ingegaan en gehelp indien hulle vasbrand). Ek onthou baie goed hoe hy in die Waterloo-kafee in Kroonstad se kombuis ingestap het en enkele minute later vir ons elkeen ons “milkshake” voor ons neergesit het! Pruimpie is lief daarvoor om almal gelukkig te maak. Ons ken hom veral op Jukskeipark waar hy loop met lysies om vir almal vleis pakkies te bestel of om karting by die SPUR te bewerkstellig. Pruimpie se faset as gesinsman sal u dalk nie van weet nie. Nee, sy swartboekie het nie net name van al die mooi nooiens op elke dorp waar die trein gestop het nie, maar sy swartboekie het ook elkeen wat hy goed ken en vir wie hy omgee se geboortedatum in. U weet almal dat hy steeds hierdie jaar elkeen bel wat verjaar – tot my kinders se verjaarsdae vergeet hy nie. Pruimpie het familie deur die hele land en skakel maklik by verskeie gesinne in. In die Kaap is hy deel van Cecil en Sandra le Roux se huishouding. Hier in die pragtige Slanghoekvallei is Pruimpie deel van die gemeenskap. Hy het sy kamer en word as deel van die le Roux gesin geag. Maar hy het ook sy liefste mense in die Noorde van die land. Graag kuier hy by Gerrie en Miempie van Tonder in Sannieshof, Piet en Magriet Botha op Leeudoringstad en Koos en Ina Swart in Bethal. Hy het ‘n woonstel in Amamzintoti waarheen hy omtrent almal wat hy ken al genooi het en gasvry onthaal. In Johannesburg is Danie en Anna Stoltz asook Karin en Dolf Venter soos sy eie familie. Ons gesin het ook vanaf die sewentiger jare nooit sonder Pruimpie gaan vakansie hou nie en my ouers, Bennie en Cynthia Spies, bly steeds getroue vriende van Pruim (of Uncle Plum soos ons hom gedoop het toe ons besef geen Engelsman kan die naam verstaan nie). Dis egter sy grootste vriend Hercules Taljaard met sy liefste Hannelie wat Pruimpie na aan die hart lê en vir wie Pruimpie deel van die gesin is. Die faset van Pruimpie wat ons die beste ken is natuurlik sy Jukskei betrokkenheid. Sy geliefde spel wat hy al vir meer as 60 jaar beoefen. Die spel wat hy in Kimberley en Johannesburg gespeel het. Die spel waarin hy nie net as speler nie maar as administrateur en ambassadeur groot hoogtes bereik het. Ons gesin het vir meer as 30 jaar saam met Pruimpie in die klub gespeel en sy lekker vinnige buitedraai het ons span menigte kere laat skof behaal want hy kon fly!!! Maar hy het so vinnig gegooi dat hy soms nie kans gegee het vir ons om penne te steek nie. Pruimpie was die een wat aan die SAJR reeds in 1960 ‘n trofee geskenk het waarom “Bonde” tydens ‘n konsert kon deelneem – van die ouer garde sal die heerlike konserte nog onthou! Pruimpie is daarna op die Juniorkomitee verkies en het saam met Oom Pieter Erasmus en Oom George Hambidge ‘n gedagte span gevorm. Toe die twee uittree het hy saam met Hercules Taljaard en later Gerrie Jacobs gedien. Hy is daarna op die Uitvoerende Bestuur van SAJR verkies en het ook as sekretaris waargeneem met die afsterwe van JP Coetzee. Pruimpie het ‘n belangrike rol gespeel met die groot borgskap van Spoornet om die Provinsiale 0/30 afdelings te steun en Jukskei finansieel by te staan. Pruimpie dien op elke komitee denkbaar in die sport en het veral die laaste paar jaar sy kundigheid en passie ter bevordering van Jukskeipark aangewend. Hy is lewenslange erelid van Sentraal Gauteng en Oos Gauteng en ook JSA. Pruimpie het die eerste Juniortoer in die land georganiseer in laat sewentiger jare en was bevoorreg om as spanbestuurder die Springbokke na Namibië te vergesel in 1993 – nou toer al ons spanne elke jaar daarheen. Hierdie baanbreker rol as toerorganiseerder het hom die naam van TOERVader laat kry. Hy het saam met verskeie juniors en seniors na Zimbabwe, Bangkok en die hele SA gereis – voorwaar ‘n vriend van almal. Hy neem fotos van almal en het goeie herinneringe oor die wye spektrum van die land en sy mense versamel. “Koek koek” het ons al menigte male gehoor as Pruimpie skrik – almal het al sy siel uitgetrek maar sy humorsin bly bo verdenking. Hy het een aand so geskrik dat hy die boks (en ons ken hom en sy bokse) met al die snoepie se kleingeld in die lug geslinger het – lank daarna was dara nog munte op die gras gevind – “oooo koek”! Pruimpie se passie vir Jukskei, sy geliefde vriende en sy God straal uit hom uit. Hy kan nie anders as om nederig te wees en nog meer te doen nie. Hy stel in almal belang – sit langs elkeen se baan en weet wat in jou lewe saakmaak. Pruimpie Botha is ‘n rolmodel vir ons wat ‘n verskil probeer maak. Hy maak nie vyande nie, Pruimpie vergewe vinnig indien hy te na gekom is en Pruimpie wys vir ons hoe ons moet liefhê. Pruimpie Botha ons eer jou en vier hierdie wonderlike eer en bewondering saam met jou. Liefdegroete Dr Melanie Jacobs